Debuutdigbundel · einde November 2026

soos die
kraai vlieg

Gedigte oor verlies en ontnugtering, soeke en gewaarwording—teen die agtergrond van sand en see en die ooptes van hierdie land wat ek liefhet.

kom staan in die oop kosyn
Voorblad van soos die kraai vlieg deur Johan Swanepoel
Turksvy Publikasies

’n oop hand

hallo leser

jy's uiteindelik saam

met my op die blad

sien jy?

hier word nie opwaarts gepleit

soos met gebede nie

maar afwaarts getrap

die diep verlang in

Uit hallo leser

ons bedoeling was om
’n ander koning te salf

soos die kraai vlieg is ’n debuutbundel oor oorsprong, verlies, twyfel en herinnering; oor die woestynlandskap en my poging om myself daarin te lees.

Die gedigte beweeg tussen die persoonlike en die argetipiese. Hulle rebelleer en aanvaar. Hulle konfronteer leemtes sonder om dit te probeer vul. Hulle poog om die donker van naderby te beskou sonder om lig daarop te werp.

Digter
Johan Swanepoel
Uitgewer
Turksvy Publikasies
Verskyn
Einde November 2026

soos die kraai vlieg verskyn einde November 2026 by Turksvy Publikasies. Bestelbesonderhede volg binnekort.

johan@johan-s.com

02 / lees

drie spore deur die bundel

’n Voorlopige keuse uit die manuskrip.

landskap01

argief

die woestyn het ’n manier

om dinge te begrawe

dorpe ook

onder swakopmund

’n ouer dorp

onder die soutpad

spore van waens en swerwers

en in die see wrakke

wat besig is om hul name te verloor

maar dis saans as die mis inkom

en die ligte dof raak

ruik die dorp

na iets ouer

so asof die skedelkus

self probeer onthou

taal02

metafoor

soos ’n kampdraad

langs ’n grondpad

iets wat tegelykertyd

skei en wys

of dalk

die stilte voor

die vaas val

die oomblik

wat lig

van donker

sinmaak

digterskap03

soos die kraai vlieg

ek bid dan dat jy

die glas teen jou vel

sal voel skuur

die yster se koue

in jou murg sal intrek

want dit is die wit

van my bors

en die swart van my kop

hier vir jou agtergelaat

slotfragment

03 / bekendstellings

wyn.
gedigte.
gesprek.

Drie intieme geleenthede word beplan—elk ’n eie ingang tot die bundel, met voorlesings, gesprek en wyn.

  1. Swakopmundtuiskoms
  2. Windhoekgesprek
  3. Tulbaghplaasvoorlesing

Datums en lokale word binnekort aangekondig.

Johan Swanepoel

04 / oor johan

“hoe beduie ek jou na ’n plek wat net bestaan as ek daarna verlang”

Johan Swanepoel woon in Swakopmund, waar sand en see voortdurend aan hom en die dorp skaaf. Hy is ’n regsgeleerde, eggenoot en pa. Hy het ’n besondere voorliefde vir uitdagings wat uithouvermoë vra en klim ook nou en dan ’n berg. Poësie is die plek waar sy wêrelde ontmoet en dikwels met mekaar in konflik tree.

soos die kraai vlieg is sy eerste bundel.

“maar ’n oop hand

wat keer op keer bly uitreik”

terug na bo